CLAAS voeg waarde toe.
Sedert CLAAS trekkers in 2005 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekend gestel is, het hulle diep spore op plaaslike bodem getrap. Vandag loop daar CLAAS trekkers in alle uithoeke van die land en die waarde wat hulle ontsluit, is kenmerkend van dié Duitse handelsmerk. Besoekers aan die Barloworld Equipment Agriculture standplaas kan vanjaar weer opwindende nuwighede uit die CLAAS stal te wagte wees.
Barloworld Equipment Agriculture versprei ‘n volledige reeks CLAAS masjinerie, wat buiten trekkers ook stropers, selfaangedrewe kuilvoerkerwers, snyers, kragharke, hooilugters en balers insluit. Die reeks bied meganisasieoplossings oor ‘n wye spesifikasiespektrum om aan die groot en kleiner boer of kontrakteur se behoeftes te voldoen, sê Johan Joubert, CLAAS bedryfsbestuurder by Barloworld Equipment Agriculture.
“Ons is ook voortdurend besig om nuwe ontwikkelings te ondersoek en nuwe tegnologie tot die CLAAS reeks te voeg wat produktiwiteit verhoog, insetkoste verminder en boere in staat stel om meer doeltreffend te opereer,” sê hy.
Presisieboerdery
So het Barloworld Equipment Agriculture onlangs ‘n vennootskap met Information Technology Engineering (ITE) gesluit om ZYNX monitering- en beheertegnologie met CLAAS masjinerie beskikbaar te stel as leiermeganisasieoplossing vir nuwegenerasie-presisieboerderybehoeftes. Dié vennootskap stel nuwe standaarde in dienslewering en ondersteuning van leiermonitering- en beheertegnologie.
“ZYNX is een van die wêreld se voorste elektroniese beheer- en moniteringstelsels vir landboumasjinerie wat opbrengsmonitering, kartering-‘guidance’, ProSteer, veranderlike toediening, kunsmis- en saadbeheer, en strooier- en spuitbeheer met CLAAS masjinerie moontlik maak, sê Johan Joubert. Die modulêre komponente is opgradeerbaar en die stelsel is gebruikersvriendelik. “Ons glo dié vennootskapsinisiatief sal groot waarde toevoeg tot die meganisasieoplossings wat ons aan boere bied.”
Op Nampo sal ZYNX stelselopsies met CLAAS masjinerie vertoon en deur middel van ‘n simuleerder gedemonstreer word.
Nuwe modelle, produkte
Aan die trekkerkant sal die nuwe CLAAS Ares 500 en 600 reekse van 81 tot 103kW die fokuspunt wees op Nampo. Dié trekkers met hul vaartbelynde nuwe ontwerp is toegerus met CLAAS se HEXACTIV outomatiese transmissie, ‘n volsuspensiekajuit en is ook beskikbaar met ‘n verskeidenheid aanhegtingsmoontlikhede. Die nuwe Atles 946 van 208kW elektronies gereël, 18-spoed volkragskuiftransmissie en ‘n driepunt-optelvermoë van tot 12 ton beloof ook om aandag te trek.
Die CLAAS trekkerreeks van 49 tot 247kW bied beproefde betroubaarheid, veelsydigheid, hoë werkverrigting, lae brandstofverbruik en operateursgerief, sê Joubert. Die grootste trekker in die reeks is die CLAAS Xerion 3300 TRAC van 247kW, wat plaaslik reeds sy staal gewys het met sowel die padvervoer van suikerriet as swaar grondvoorbereidingswerk. Die reuse Xerion met sy vier ewe groot wiele is toegerus met ‘n ZF ECCOM 3.5 infinitief-wisselbare transmissie, en kan 30 ton op sy raam en 12 ton op sy driepunt dra.
Wat stropers betref sal sowel die Lexion as Mega op Nampo te sien wees. Goeie nuus vir Mega-boere is dat die Mega nou toegerus kan word vir opbrengskartering.
Nog ‘n produk wat groot waarde gaan toevoeg, is MX laaigrawe. “CLAAS se sukses in die voermaakbedryf het die insluiting van ‘n hoëgehalte-laaigraaf genoodsaak,“ verduidelik Joubert.
Die MX TECHNIC-reeks word in Frankryk vervaardig en kan in die CLAAS trekkerfabriek gepas word. Joubert sê MX laaigrawe is prysmededingend, prakties, veelsydig en gebruikersvriendelik, en het ‘n nuwe ontwerp wat onder meer meebring dat die hidrouliese pype in die raamwerk geïntegreer is – met al die voordele wat dit inhou. MX vervaardig ook ‘n voorhyser wat, soos die laaigrawe, deur die CLAAS handelaarsnetwerk beskikbaar sal wees.
Wat sy groenlynreeks self betref is CLAAS stewig gevestig as die nommer een-oplossing vir die maak van hooi en groen- en kuilvoer. So is die CLAAS Jaguar byvoorbeeld Suid-Afrika se gewildste selfaangedrewe kuilvoerkerwer en die CLAAS Rollant 240 Suid-Afrika se mees gesogte baler. ‘n Nuwe toevoeging tot dié uitsoekreeks is die 3m Disco sleepsnyer vir boere wat die sleep-opsie verkies.
Goed ge-olie
Nog goeie nuus vir CLAAS boere is dat CLAAS en Total wêreldwyd ‘n samewerkingsooreenkoms gesluit het waarvolgens olie volgens CLAAS se unieke spesifikasies gemeng en beskikbaar gestel sal word. Boere sal voortaan dus verseker wees dat hulle altyd presies die regte spesifikasie olie gebruik, wat sal help om enjinlewens te verleng deur slytasie te verminder.